Ons Kerk
Dink so oor ons:
Ons gemeente is in 2023 honderd jaar oud.
Hoeveel besighede ken jy wat 100 jaar oud is? En tog is dit waar van ons gemeente. Dit vertel iets van wie ons is: vas op die rots van ou onveranderlike waarhede, soepel om in elke tyd Jesus te volg.
Soos die gemeente oor die jare gegroei het, is mylpale bereik. In 1952 het ons ons huidige gebou ingebruik geneem. Die gebou is deur die bekende argitek, Gerhard Moerdyk ontwerp. Hier sit ons halfrond, intiem – om die Woord met mekaar in die oog. Maar ons het ook ander soorte “kerke gebou”: Uit ons gemeente het verskeie ander gemeentes gegroei: Bellville, Bellville-Oos, Stellenbosch, Paarl, Worcester, Grassy Park, Elsiesrivier, Crossroads. Voor die Parlement het ons getuig oor rassisme, in die hawe het ons sendingwerk gedoen.
Ons is deel van die familie van Gereformeerde Kerke in Suid Afrika. Dr. Pieter Bingle, ‘n vorige predikant van die gemeente, skryf in 2007 dat ons God nie ‘n ‘gereformeerde stam-god’ is nie. Ons hou goeie verhoudinge met vele ander kerke.
Ons is ‘n drie-dimensionele kerk – ons reik na bo, na binne, na buite. Dit beteken ons leef in ‘n lewende en dinamiese verhouding met God. Hierdie verhouding weerkaats in hoe ons mekaar liefhet. En ons deel hierdie verhouding met God en mekaar graag met ander mense buite ons gemeente.
As mense die eerste keer by ons kom kuier sê hulle gewoonlik ons kry by julle ‘n deurleefde verhouding met God. Dit is lekker om saam met julle te sing. Terwyl soveel mense die Bybel loslaat het ons by julle die Bybel onverdund gekry. En tog was die boodskap dit vars aangebied. Julle liefde vir mekaar is sigbaar, tasbaar. Ek het tuis gevoel.
‘n Paar kontraste som ons goed op: Ons is tradisioneel én informeel gelyk; intellektueel én deurleefd; staan rotsvas op die waarheid én rats op ons voete; klein genoeg sodat elkeen tel én groot genoeg om sáám groot dinge te doen.
Ons het ‘n storie om te vertel. Heelwees om te deel. Saam met ander die fees van die lewe te dans.
Die afgelope jare het ons hard gewerk aan ons deurleefde verhouding met God die Vader, Seun en Gees. En aan hoe die verhouding met Hom weerkaats in hoe ons met mekaar maak. Nou rol ons die derde fase van ons groeiplan uit: ons is gereed om wat ons in God en mekaar het, nog meer met ander te deel.
Die bekende predikant, Tim Keller, vergelyk die verhouding tussen die Vader, Seun en Gees met ‘n dans. In hierdie dans is elke Persoon van God op die ander Persone gerig; draai nooit om Homself nie, altyd om die Ander Twee. So is die interaksie tussen die Vader, Seun en Gees asemrowend mooi, altyd in harmonie, voortdurend aan die beweeg.
God Drie-enig het Jesus in die wêreld ingedans om ons in Hulle dans in te nooi; sy Gees leer ons sy ritme en melodie.
As ons sê ons wil saam met ander die fees van die lewe dans, hou ons ons hand uit en nooi jou – kom, sit jou hand in ons hand, saam met ons hande in God se hand, en kom leer saam dans. Kom, word deel van hoe ons saam met die Vader-Seun-Gees asemrowend en opwinend deur die lewe dans.
So het daar die afgelope tyd veral jong mense in hulle twintigs en vroeë dertigs by ons gemeente aangesluit. Dis dikwels mense wat gereis het, die wêreld gesien het, en nou iewers wil vasmaak aan ‘n kerk wat die golwe van die tyd deurstaan het. Soms skakel ook mense wat steeds in die buiteland is by ons aanlyn bediening in. Hier word kompasse gekalibreer en ‘n groter sin gevind.
Hier pas ons in die breë kerklike wêreld in; dít is ons handelsmerk.
Twaalf Artikels
Die legende dat hulle in die rondte gegaan het en elkeen van die 12 apostels een aspek van sy geloof in hierdie belydenis verwoord het, is nie waar nie. Die formuleing is waarskynlik in die 2de eeu n.C. gebore. Dink net, Christene het al 1800 jaar gelede so oor hulle geloof gedink!
Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde;en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria;wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is.Hy het die lyding van die hel ondergaan.Hy het op die derde dag opgestaan uit die dood;opgevaar na die hemelen sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,waarvandaan Hy sal kom om die lewendesen die dooies te oordeel.Ek glo in die Heilige Gees;Ek glo aan ‘n heilige, algemene Christelike kerk,die gemeenskap van die heiliges;die vergewing van sondes;die opstanding van die liggaamen ‘n ewige lewe.
Nederlandse Geloofsbelydenis
Guido de Bres het hierdie dokument in 1561 opgestel om protestante se saak te stel midde intense vervolging deur Rooms Katoliek gesinde regeerders. Die dokument is aan Koning Phillip II gestuur om hom te oortuig die protestante is nie rebelle nie. In 1567 sterf De Bres self as martelaar.
Dit bring my tot stilstand om my in te dink hoe Guido se lewe 500 gelede sou gelyk het en om dan hierdie woorde uit sy mond te hoor.
Die volledige NGB is te lank om hier te plaas. Maar in die dokument is daar juwele. (Ek beklemtoon van my persoonlike gunstelinge – webmeester.)
Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar ‘n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem (Art 1).
(Die skepping – en die onderhouding en regering daarvan -) is immers voor ons oë soos ‘n mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, duidelik laat sien (Art 2).
(Die) Woord van God (is) nie deur die wil van ‘n mens gestuur of voortgebring nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige gees gedrywe, gespreek (Art 3)
Ons glo dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie (Art 13).
Ons glo dat ons goeie God in sy uitnemende wysheid en goedheid die mens weer opgesoek het toe Hy gesien het dat die mens homself in die liggaamlike en geestelike dood gewerp het (Art 17)
Ons glo dat die Heilige Gees ‘n opregte geloof in ons harte laat ontvlam… (wat) Jesus Christus met al sy verdienstes (omhels). (Die geloof) maak Hom ons eie en soek na niks anders as na Hom nie (Art 22).
Ons glo dat ons geen ander toegang tot God het nie as net deur die enigste Middelaar en Voorspraak, Jesus Christus , die Regverdige (Art 26).
(Ons) verwerp alle menslike versinsels en alle wette wat mense (in die kerk) sou wou invoer om God te dien en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur te bind en te dwing (Art 32).
Heidelbergse kategismus
Keurvors Frederik III het ‘n leerboek vir skole gevra. Twee jong dominees, Zacharias Ursinus en Caspar Olevianus, het toe die Heidelbergse Kategismus in 1563 opgestel.
Die volledige HK is te lank om hier te plaas. Hier is ‘n hand vol van die skatte uit hierdie dokument. (Ek beklemtoon my persoonlike gunstelinge – webmeester.)
(Ek behoort) met liggaam en siel in lewe en sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus (Antw 1).
Ons (is) glad nie in staat om iets goeds te doen nie… behalwe as ons deur die Gees van God weergebore word (Vr & Antw 8).
‘n Ware geloof is nie alleen n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar nie, maar ook ‘n vaste vertroue wat dieHeilgie Gees deur die evangelie in my hart werk (Antw 21).
(Ek word ‘n Christen genoem) omdat ek deur die geloof ‘n lid van Christus is en daardeur deel het aan sy salwing (Vr & Antw 32).
(Dit) is onmoontlik dat ‘n mens wat deur’n ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sal voortbring nie (Antw 64).
Ek (moet my) naaste se eer en goeie naam na my vermoë verdedig en bevorder (Antw 112).
Dordtse Leerreëls
Wie is daarvoor verantwoordelik dat ek God se kind is? God? Ek? Hy en ek saam? Vandag nog stoei baie gelowiges met hierdie vraag.
In 1618/19 het kerke ‘n klomp mense na ‘n vergadering in Dordtrecht, ‘n dorp in Nederland, gestuur om die vraag te antwoord.
Hier is ‘n paar betekenisvolle formulerings uit hierdie dokument. (Ek beklemtoon my persoonlikke gunstelinge – webmeester.)
Volgens (God se ewige) besluit maak God genadiglik die harte van die uitverkorenes ontvanklik – hoe verhard hulle ook al mag wees – en buig hulle om tot geloof (1:6).
Hierdie raadsbesluit is die gevolg van God se ewige liefde vir die uitverkorenes (2:9).
(God) bring sowel die wil om te glo as die geloof self in die mens tot stand (3/4:14).
Die genade maak die wil geestelik lewend, genees, verbeter en buig dit tegelykertyd lieflik en kragtig (3/4:16).
Dat (gelowiges) nie heeltemal uit die geloof en die genade uitval… nie, (kry) hulle nie deur hulle eie verdienste of inspanning nie maar weens die genadige barmhartigheid van God (5:8).